Saam met Christene deur die eeue bely ons, ons geloof soos volg:
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
Hy het die lyding van die hel ondergaan*.
Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;
opgevaar na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
waarvandaan Hy sal kom om die lewendes
en die dooies te oordeel.
Ek glo in die Heilige Gees;
Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die liggaam
en ‘n ewige lewe.
* Grondteks: en neergedaal het na die hel
Die Gereformeerde Kerke het ses belydenisskrifte wat in twee groepe verdeel word nl. die algemene belydenisskrifte en die drie formuliere van eenheid. Die belydenisskrifte is kort samevattings van die waarhede in die Bybel. Hulle het nie die hoogste gesag in die kerk nie. Die Bybel het die hoogste gesag in die Kerk, dus moet die belydenisskrifte die waarheid wat hulle verkondig altyd op die Bybel baseer.
Die Drie Algemene Belydenisskrifte
Die Algemene belydenisskrifte word so genoem omdat dit deur omtrent alle Christelike kerke aanvaar en onderskryf word.
Die Christelike Kerk noem hierdie belydenisskrif die Apostoliese Geloofsbelydenis, alhoewel die apostels dit nie opgestel het nie. Reeds vanaf die 2de eeu het dit sy ontstaan gehad en het verder ontwikkel totdat dit ongeveer die vierde eeu sy finale beslag gekry het.
Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde;
en in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;
wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria;
wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
Hy het die lyding van die hel ondergaan*.
Hy het op die derde dag opgestaan uit die dood;
opgevaar na die hemel
en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,
waarvandaan Hy sal kom om die lewendes
en die dooies te oordeel.
Ek glo in die Heilige Gees;
Ek glo aan ‘n heilige, algemene Christelike kerk,
die gemeenskap van die heiliges;
die vergewing van sondes;
die opstanding van die liggaam
en ‘n ewige lewe.
* Grondteks: en neergedaal het na die hel
Hierdie Belydenisskrif word genoem na die plek Nicéa (Klein-Asië) waar daar in die jaar 325 ‘n Sinode gehou is en waar die dwalings van Arius verwerp is. Die finale vorm is egter eers van ‘n later datum, waarskynlik van die Sinode van Konstantinopel, 381.
Ons glo in een God, die almagtige Vader, die Skepper van hemel en aarde, van alle sigbare en onsigbare dinge;
en in een Here Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor al die eeue uit die Vader gebore:
Hy is God uit God, lig uit lig, ware God uit ware God,
gebore, nie gemaak nie, een in wese met die Vader,
deur wie alles tot stand gekom het.
Hy het ter wille van ons, mense, en ons saligheid uit die hemel neergedaal en het deur die Heilige Gees uit die maagd Maria vlees geword; Hy het mens geword;
onder Pontius Pilatus is Hy vir ons gekruisig;
Hy het gely en is begrawe.
Op die derde dag het Hy volgens die Skrifte opgestaan,
en Hy het na die hemel opgevaar.
Hy sit aan die regterhand van die Vader, en Hy sal met heerlikheid terugkom om die lewendes en die dooies te oordeel.
Aan sy koningskap sal daar geen einde wees nie.
Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak.
Hy gaan van die Vader en die Seun uit, en Hy word saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik.
Hy het deur die profete gespreek.
Ons glo aan een, heilige, algemene en apostoliese kerk.
Ons bely een doop tot vergifnis van die sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies
en die lewe van die toekomstige bedeling.
Amen.
Hierdie Belydenisskrif word genoem na Atanasius, die verdediger van die Skriftuurlike leer teen die dwalings van Arius in die 4de eeu, alhoewel dit betwyfel word of dit Atanasius self was wat dit opgestel het. Dit vertolk egter die Kerk se standpunt oor die leer van die Drie-eenheid.
Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou.
As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer,sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.
Want die persoon van die Vader is ‘n ander, dié van die Seun is ‘n ander, dié van die Heilige Gees is ‘n ander. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid. Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.
Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig. Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige,net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.
Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig; en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.
So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;en tog is daar nie drie gode nie maar een God. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here; en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.
Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem,word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely.
Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer; die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit. So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.
En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie, maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk, sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word. Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.
Maar vir die ewige saligheid is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet glo. So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun van God, tegelyk God én mens is. Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die wese van sy moeder, in die tyd gebore; volkome God, volkome mens met ‘n redelike siel en menslike vlees, na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder as die Vader.
En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie maar een Christus. Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie maar deur die aanneming van die mensheid in God. Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie maar deur die eenheid van die Persoon.
Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus, wat ter wille van ons saligheid gely het. Hy het die lyding van die hel ondergaan*. Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan, na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit.
Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel. By sy koms sal alle mens, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee. En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen het, in die ewige vuur. Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie salig kan word nie.
Die Drie Formuliere van Eenheid
Daar is drie formuliere van eenheid. Al drie is omvattende belydenisskrifte wat saam die hele spektrum van ons geloof dek.
Die Nederlandse Geloofsbelydenis staan ook bekend as die 37 artikels teen die Remonstrante. Dit is in 1559 deur Guido de Brès opgestel en in 1561 uitgegee.
Lees die Nederlandse Geloofsbelydenis op die webblad van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika.
Hierdie belydenisskrif was opgestel deur Casper Olivianus en Zacharias Ursinus. Albei was hoogleraars (professore) in Heidelberg, Duitsland.
Die uitgangspunt van die Heidelberse Kategismus is die vraag na die Christen se enigste troos in lewe en sterwe.
Daar is drie dinge wat elke gelowige moet weet om hierdie troos te kan belewe:
- Hy moet weet hoe groot sy sondes en ellende is.
- Hy moet weet hoe hy van sy sondes en ellende verlos kan word.
- Hy moet weet hoe hy God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.
Lees die Heidelbergse Kategismus op die webblad van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika.
Hierdie belydenisskrif is opgestel deur die Nasionale Sinode van Dordt in 1618/19. Dit het ontstaan uit die stryd tussen die Gereformeerdes, die kontra-Remonstrante en die Remonstrante. Johannes Bogerman was die voorsitter van die Sinode en hy was ’n kontra-Remonstrant.
Die Remonstrante handhaaf die geloofsrigting wat hulle saligheid afhanklik maak van die mens se wil en geloof. Die mens is die bewerker van sy eie heil. Die Dordtse Leerreëls is ‘n antwoord op hierdie valse leer.
Die Dordtse Leerreëls handel oor die volgende:
- Hoofstuk I: Verkiesing en verwerping
- Hoofstuk II: Verlossing deur die dood van Christus
- Hoofstuk III,IV: Val, verdorwenheid en bekering van die mens
- Hoofstuk V: Volharding van die heiliges
Lees die Dordtse Leerreëls op die webblad van die Gereformeerde Kerke in Suid Afrika.