Lees: Eksodus 25:23-30
By die Here aan tafel.
Die Here is nie soos afgode nie. Die afgode moet versorg word. Die Here is die een wat versorg en versadig.
Ons kan miskien ons koppe meewarig skud oor mense wat vandag nog hulle afgode met kos versorg, maar hoe moeilik is dit vir ons om vanuit die genade te leef. Om te sê: “U genade is vir my genoeg”?
Die tafel met toonbrode in die heilige deel van die ark leer ons om afhanklik van die Here te leef. Hy sal vir ons sorg. Ja, sy genade is genoeg. Ons weet dat Hy ons nie net voer soos wat ‘n mens ‘n dier voer nie. Nee, Hy nooi ons na sy tafel toe. Na ‘n gemeenskap-maaltyd. Hy vul nie net ons mae nie, Hy vul ons lewe met Homself.
God se versorging word nog duideliker wanneer Jesus sê: “Ek is die brood van die lewe.” Hierdie brood, Jesus Christus, hou jou nie net aan die lewe nie, Hy verander jou lewe. Deur die gemeenskap met Jesus kom woon Hy in jou en jy kom woon in Hom. Jesus gee Homself en Hy gee Homself aanhoudend sodat ons wesentlik verander. Verander van ‘n mens in Adam tot ‘n mens in Christus. Verander van ‘n woonplek van sonde tot ‘n tempel van die Heilige Gees.
God versorg ons en Hy versadig ons. Die tafel in die heilige deel van die tabernakel is deel van die diens aan die Here. Dit is die diens aan die Here waardeur ‘n mens se diepste honger versadig word. Teenoor die verskriklike leegheid wat sonde bring, staan die heerlike volheid wat mens beleef wanneer jy saam met God leef en werk.
Versadigde mense word versorgende mense. Jou hart is seer oor die fisiese honger, maar veral oor die geestelike honger in die wêreld. En ons is die mense wat weet waar brood in oorvloed is.