Tradisioneel herdenk ons die Hervorming op die laaste sondag van Oktober. Op Hervormingsondag 1940 bespreek Beyers Naudé die invloed wat die Hervorming gehad het op die gebruik van die Woord; die lewe van die individu, die funksioneering van die Kerk en die leer van die kerk. Die preek volg hieronder.
Wat Het dit Gebring
Lees 1 Kon 21:1-7
Teksvers:
1 Kon 21:3 Maar Nabot het vir Agab gesê: Mag die here my daarvoor bewaar dat ek die erfdeel van my vaders aan u sou gee.
Vandag is Hervormingsfees ter herdenking aan die groot kerkhervorming vier eeue gelede. ln ons verbeelding gaan ons gedagtes terug na 31 Oktober 1517, na die dorpie Wittenberg. Die volgende dag was dit die allerheiligste fees. Die gebruik was dat een van die professore van die universiteit die dag in ’n debat sal deelneem voor die skare. Die vorige dag moet hy sy onderwerp aankondig. Reeds wag die volk ongeduldig. Wie sou dit wees? Die forse gestalte van Martin Luther verskyn op die trappies, in sy hand ‘n perkament rol, 95 stellinge waarmee hy verkeerde dinge van die Rooms Katolieke Kerk aanval. Dinge wat aan die Skrif getoets is.
Dit is die begin van groot dinge, Ek wil nie vandag die hele geskiedenis nagaan nie, ons ken dit. Ek wil net vra: Wat is die betekenis van die Hervorming? Wat het dit gebring? Die Hervorming het verskeie erfenisse gelaat. Ek wil vanaand vier noem:
Geopende Woord
Die omstandighede voor die Hervorming is gekenmerk deur:
- geen Bybelvertaling in die spreektaal nie
- swak verklaring van die Skrif
- geen verspreiding daarvan nie.
Die stryd van Luther was om:
- die vertaling van die Woord
- nougesette verklaring en bestudering daarvan
- die verspreiding daarvan.
Offers wat dit vra: lewe, goed, ens.
Geopende kerk van Christus
Die toestand voor die Hervorming:
- lang, ingewikkelde liturgiese dienste
- in ‘n vreemde taal (Latyn)
- gekenmerk deur vormlikheid.
Die stryd van Luther was:
- teen wanbestuur,
- teen aflaat,
- teen geldafpersing.
Offers wat dit vra: lewe, goed, ens.
Vrugte wat dit lewer: ons hele beskawing van vandag; ons kultuur.
Vrye gewete
Elkeen sy/haar eie godsdiens.
Geopende Weg na die hemel
Voor die Hervorming was die pad na Jesus Christus versper deur honderde heiliges en engele by wie ’n mens moes verbykom.
Luther se stryd was om vertaling en verkondiging van die evangelieboodskap. Die offers wat dit vra is ons lewens. Nou het die vrye pad na die hemel, na Jesus Christus oopgegaan vir ons.
Ons hele geskiedenis is gedrenk in die bloed van die martelare. Waardeer ons die erfenisse? Is ons navolgers wat alles sal opoffer hiervoor of gaan ons ook ons erfdeel prysgee?
In die verlede was die Woord van God ’n bate vir die Voortrekkers! Maar, is ons getrou daaraan? Ons moet die Bybel lees, bestudeer en daaruit leef, in Godshuis en in die Sondagskool vir ons kinders. Waar staan ons met betrekking tot die Kerk van God? Glo ons nog in die boodskap van die kerk of hang ons ook ander gode aan? Is ons gewetes nog vry? Vind ons nog die weg tot Jesus, ken ons die weg, leer ons ander dit ken? Maak ons nog bekeerlinge of maak ons nie dalk die pad na Jesus deur ons lewens vir ander toe nie?
Hoe moet ons dan maak?
Gaan kyk na die hervorming van Josia (2 Koning 22-23):
- Josia het sy eie klere geskeur uit persoonlike boetedoening;
- Hy het die wet van God herstel, beide in die harte en die lewe van die volk;
- Hy het alle onwettige dinge teëgegaan.
Laat ons bede wees
Hervorm vir al, volmaak,
My hart, Heer, na U smaak
Heilige Jesus, heilig my.
Dat ek as Gy,
Geheel volkome sal heilig zy.
AMEN
Bron: Vreesloos Gehoorsaam Murray Coetzee, Len Hansen, Robert Vosloo